Maandbrief – Herderlike brief

Herderlike Brief Julie 2021

NG Gemeente Calitzdorp

                                           Herderlike Brief

                                                                        Julie 2021

                                                    (Vlak 4 Covid19 inperkingstyd)

‘n Pragtige simbool van dankbaarheid en hoop het in die kerk se tuin verskyn: die Witkareeboom geplant deur die groep mense wat kom dankie sê het vir die reën. Boonop vertoon ons hele kerktuin pragtig, soos ook die velde omliggend aan ons dorp. Dit wil lyk of die donker wolk van die droogte nou bietjie ligter is. Dieselfde kan egter nie gesê word van die Covid19 wolk nie. Met die huidige vlak van inperkings mag ons nie eredienste hou nie, en kry ons dorp se ekonomie ook ‘n deeglike hou in die maag. Mens is dankbaar vir die eetplekke wat nou wegneemetes aanbied, en ons hoop dinge keer gou weer terug na normaal ter wille van die welwese van al ons mense. Die inentingsveldtog in die kerksaal verloop glad, ten spyte van sommige mense se weerstand teen inentings.

Die kerkraad en bestuursgroep funksioneer in hierdie dae sonder vergaderings maar met elektroniese kommunikasie. Dit gaan goed met die gemeente. Die reeks besoeke deur die predikant aan plase en huise het aanvanklik goed afgeskop, maar ook daar het Covid nou tydelik ‘n stokkie voor gesteek: ek was self in kontak met verskeie Covid19 positief mense, en moes self-isoleer, en moet steeds baie versigtig wees om nie die virus aan ander mense oor te dra nie. Gelukkig is ons kinders Wilhelm en Atka veilig daardeur.

Die goedheid en goedgesindheid van ons mense ken geen perke nie. Ons kon die afgelope tyd op heelwat vlakke hulp verleen, veral aan diegene wat kos verskaf aan die honger kinders in ons omgewing. Wees verseker dat elke stukkie hulp in die vorm van kos uitkom by die hongerstes onder ons. Ons het ook nou die geleentheid om die verbetering van die beeld en klank in die kerk (en dalk ook die saal) noukeurig te oorweeg, en daar behoort eersdaags ‘n groot verrassing te wag op diegene wat ‘n erediens in die kerk bywoon. Hierdie week en volgende week se erediensopnames word gestuur aan u via ‘n youtube skakel, en as ons dit kan regkry ook via whatsapp en per epos.

Soms kry mense in ons omgewing baie swaar, vanweë siekte of ander faktore. Natuurlik erken ons elkeen se reg op privaatheid, as iemand daardie swaarkry nie bekend wil maak nie. Dis reg so. Asseblief: as jy egter enige vorm van nood ervaar, en die vrymoedigheid het, laat weet ons, al is dit net dat ons vir jou kan bid. Al is ons ‘n klein gemeenskap, gebeur dit tog gereeld dat iemand swaarkry, en ons weet nie daarvan nie, en moet dit later per ompad uitvind. As jy my laat weet by venterp@iafrica.com of by 0824466604, sal ek met jou kontak maak met die behoud van die strengste vertroulikheid.

Mag diegene wat die afgelope tyd ‘n geliefde verloor het, of siek geword het, of ‘n kind het wat swaarkry, of spook om ekonomies kop bo water te hou, of enige ander vorm van nood ervaar, troos vind by Psalm 23:4: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig”.

Op Sondae 4 en 11 Julie sal daar nie eredienste in die kerkgebou plaasvind nie vanweë die inperkings, ook nie Bybelgesprekke en Halfuur-vir-manne nie. Kyk gerus by: https://www.youtube.com/watch?v=afW7T_NfDe4

Groete, Philip

Herderlike Brief April 2021

                                                                             NG Gemeente Calitzdorp

                                                            HERDERLIKE BRIEF

                                                                                       APRIL 2021

Aan: Alle Calitzdorpers en Gemeentelede

Van: Dr Philip Venter, leraar

Die tyd stap aan! Onverbiddelik, dog geseënd onder God se beskikking. Die nuwe fase in ons gemeente is nou bykans ‘n maand oud. Ons had ‘n goeie 40mm reënbui, die veld is plek-plek mooi groen. Dit wil lyk of Covid 19 se verbete aanslag op ons lewens stadigaan afneem, en die ekonomie en toerisme bietjie kop optel.

Ons word nou toegelaat om eredienste te hou, met tot 250 mense op ‘n keer, met behoud van sekere voorsorgmaatreëls soos maskers en distansiëring. Die pragtige kerkgebou en orrel skep ‘n atmosfeer van gewydheid wat moeilik ge-ewenaar word elders. Veral tydens die aandnagmaal van 1 April kon ons die kerk se fenomenale aanbiddingspotensiaal waardeer. Dankie aan elkeen wat daardie geleentheid, en ons eredienste, bygewoon het. Onthou asseblief om die kleintjies saam te bring kerk-toe: Alfredus, ons eendmaatjie, het elke Sondag iets om te vertel uit sy lewe daar op die dam.

Daar word tans gewerk aan die pastorie ter voorbereiding van die verhuring daarvan. Christa en ek woon in ons eie huis. Die raadsaal by die kerkkantoor is ingerig as my kantoor en spreekkamer. Die huidige leraarspos is ‘n deeltydse pos vir ‘n tweejaar termyn. Daarom is ek op Dinsdae nie in Calitzdorp nie, in die raadsaal op Maandae en Vrydae van 08h00 tot 13h00, Donderdae van 08h00 tot 16h00, en Sondae na afloop van die erediens soos benodig. Woensdae is opsygesit vir besoeke in ons pragtige dorp en wye distrik. Jy is hartlik welkom om te kom inloer; as jy wil seker maak deur middel van ‘n afspraak, bel my gerus by 0824466604.

Enkele nuwighede het begin. Op Donderdae om 09h00 word ‘n Bybelgesprek in die saal gehou waar almal baie welkom is. Ook op Donderdae om 12h30 tot 13h00 is daar ‘n Halfuur vir Manne, ‘n kuier- en storiegeleentheid. Op Sondae 08h30 tot 09h00 vind ‘n Engelse geleentheid genaamd “Moments of Reflection and Meditation” in die kerk plaas.

Ons gemeente neem vanjaar weer voluit deel aan die Redstone wedrendag op 8 Mei: ons gaan daar “basaar” hou! Kontak gerus vir Cara by die kerkkantoor, wat alles reël, vir aanbiedinge en skenkings en navrae. Calitzdorpgemeente se vleistafel is landwyd bekend, en gewoonlik gou-gou uitverkoop. Cara sal elke aanbod van beeste, skape, varke, bokke, hoenders, volstruise, ganse, koek, pannekoekdeeg, poeding, broodjies, groente, hande wat kan help, en wat ookal die stadsjapies wat kom kuier sal geniet, baie waardeer. Haar nommer is 0662880048.

Ons gemeente en ons dorp en distrik het ‘n ingewikkelde en soms dramatiese geskiedenis. Weens allerlei faktore, ook wereldwye tendense, het deelname aan die gemeenskap en veral die kerk  baie seergekry. In hierdie nuwe herboufase hoop ons dat ons mense die genade van God so kragtig sal ervaar dat ons aanbidding en verwondering opnuut sal groei en floreer. Die kerkgebou is van klip gemaak; maar ons het nie harte van klip nie; die kerkgebou staan in die middel van ons dorp, maar vraag is of God ook die middelste plek in ons harte inneem. As jy ‘n hunkering voel na die Here, hoe gering ookal, en te midde van hoeveel persoonlike nood of swaarkry ookal, benut asseblief die nuwe inklusiewe geleentheid om te kom praat, te kom bid, te kom deelneem. My ou bakkie ry graag grondpad, en gaan baie ry. As jy egter, voor ek by jou op die plaas of in jou huis uitkom, graag iets wil deel of ‘n gebed nodig het, laat weet by bogemelde nommer sommer dadelik, dan kom ek soontoe.

Psalm 122:7: “Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou woning….ter wille van die huis van die Here ons God bid ek dat dit met jou goed sal gaan”.

Groete,

Philip

Maandbrief aan gemeente – 10 Desember 2020

Liewe Gemeentelid

Daar sal voortaan ‘n Maandbrief aan u gestuur word waarin belangrike inligting gemeld word ter aanvulling van die gemeente kalender en weeklikse PADKOSDie laaste uitgawe van PADKOS vir 2020 sal dié een wees vir die week van 13 tot 19 Desember. Die eerste uitgawe vir 2021 sal DV op 15 Januarie uitgestuur word. Die volgende uitgawe van die Maandbrief sal einde Januarie aan u deurgestuur word.

Laat weet asb. die kerkkantoor as daar ander gemeente-inligting is wat u ook graag in die Maandbrief wil laat opneem. Dalk kan u ‘n besonderse naam vir die Maandbrief voorstel.

Ten spyte van ‘n deurmekaar jaar kon die Redstone geleentheid tog in November plaasvind. Daar was 223 deelnemers aan die verskillende items en vanjaar was daar vir die eerste keer ook perderuiters.   Redstone word deur ‘n trust georganiseer m.b.v. Jakhals Events.  Die wins word verdeel tussen instansies/individue wat diens in die gemeenskap verrig.  Die bedrag wat vanjaar beskikbaar sal wees, is nog nie finaal nie, maar mense wat dink hulle kwalifiseer volgens die riglyne van die trust, kan reeds aansoek doen by mrchrisball@gmail.com of welgevon@gmail.com

Die voordeel wat die kerk uit Redstone trek is die geleentheid om kos, vleis, pannekoek, ens. te verkoop om ons fondse aan te vul.  As gevolg van die Covid19-regulasies kon ons nie die volle voordeel daaruit trek nie, maar in die verlede was dit een van die groot insamelings van die kerk.  Op 7 & 8 Mei 2021 het ons weer ‘n kans.  Dink solank aan vleis, pannekoek, boepensbroodjies en alles wat lekker is.  Die mense het hierdie jaar gevra daarvoor.  Ons moet Redstone egter nie net sien in terme van ‘n geleentheid om fondse in te samel nie.  Dit is ook ‘n wonderlike geleentheid om mense te leer ken, die kerk se gesig te wys en diensbaar te wees.

‘n Tweede geleentheid wat besondere aandag getrek het hierdie jaar, ten spyte van Covid19, is die Citadel Kwagga Wynveiling. Dit het op 17 Oktober 2020 plaasgevind by die Hoërskool Outeniqua in George. Die gemeente baat ook by hierdie geleentheid as fondsinsameling en ‘n pragtige bedrag is aan die gemeente oorbetaal.

Vanjaar se wenners van die lot vir die gemeente, was die Stammer gesin wat reeds aan die begin van Desember hul prys benut het met ‘n heerlike staptog gelei deur Kevin Koen asook verblyf by Petro Potgieter-hulle op die plaas met ‘n heerlike verrassingsgeskenk pak met allerhande interessante produkte van Calitzdorp en omgewing daarin. Hulle is ook bederf met ‘n heerlike braaipak vir hul Saterdagaand. De Krans, met ‘n lekker wynproe, The Accidental Baker, Karooboom, Briëtte, Marina, en JP Ellis het almal bygedra om hul prys interessant en aangenaam te maak.

Volgende jaar wil ons graag sien dat meer Calitzdorpers die geleentheid in George bywoon.

Die Appelkoos Jamboree op 28 November was ‘n lekker hoë noot om die jaar op af te sluit met ‘n span van die gemeente wat die pannekoek, brunch, koffie en tee, worsbroodjie en sosatie-stalletjies beman het. Dit was weereens ‘n aangename saamkuier na die diep grendeltyd en ‘n mooi bedrag is ook hier ingesamel.

Ons sien almal met opwinding en afwagting uit na ons nuwe leraar wat DV op 1 Maart die leisels by Ds. Jan oorneem. Ons vertel jul meer daarvan in die Januarie uitgawe.

Geniet die wegbreek en u word almal ‘n geseënde en veilige Kersseisoen toegewens.

Bestuurspan

BELANGRIKE INLIGTING

Eredienste tydens Kersvakansie in kerkgebou:

20 Desember om 09:30 – gasprediker

Kersdag 25 Desember om 08:00 – gasprediker

Geen erediens op Sondag 27 Desember.

3 en 10 Januarieom 09:30 – gasprediker

Dr. Philip Venter sal die eredienste waarneem op 17 en 24 Januarie 2021.

Ds. Jan Bronkhorst sal die erediens op 31 Januarie 2021 waarneem.

Kerkkantoor:

Sluit om 13:00 op Dinsdag 15 Desember 2020

Heropen om 08:00 op Maandag 18 Januarie 2021.

Vir enige navrae gedurende hierdie tydperk kan u 066 288 0048 skakel.

Pastorale hulp gedurende tydperk 15 Desember 2020 tot 30 Januarie 2021.

Skakel 066 288 0048 en u sal verwys word na die aangewese persoon wat kan help.

Ds. Jan Bronkhorst met verlof vanaf 15 Desember 2020 tot 30 Januarie 2021.

Kerkalmanak 2021

DV beskikbaar by Kerkkantoor op 15 Desember en sal in kerkgebou geplaas word.

SKOLE OPEN 2021

Leerlinge – 27 Januarie

Kerkraadvergadering

31 Januarie 2021 na die erediens om 11:00 o.l.v. Ds. Jan Bronkhorst.